Die Tafels van die Goddelike Plan (#3227)

O God die onvergelyklike! O U die Here van die Koninkryk! Hierdie siele is U hemelse leër. Help hulle en, met die hulp van die legioene van die Opperste Skare, maak hulle seëvierend, sodat elkeen van hulle mag word soos 'n regiment om hierdie lande te verower deur die liefde van God en die verligting van die goddelike leer.

O God! Wees U hulle ondersteuner en hulle helper, en in die wildernis, die berg, die vallei, die bosse, die grasvlaktes en die seë, wees U hulle vertroude - sodat hulle deur die mag van die Koninkryk en die asem van die Heilige Gees mag uitroep.

Werklik, U is die Sterke, die Magtige en die Alvermoënde, en U is die Wyse, die Horende en die Siende.

-`Abdu'l-Bahá
-----------------------

Die Tafels van die Goddelike Plan (#3228)

O God, my God! U sien my verruk en aangetrek na U glorieryke koninkryk, onder die mensdom met die vuur van U liefde ontvlam, 'n boodskapper van U koninkryk in hierdie uitgestrekte en ruime lande, afgeskei van alles behalwe U, ek vertrou op U, doen afstand van rus en gemak, ver weg van my geboorteland, 'n swerwer in hierdie streke, 'n vreemdeling op die grond geval, ootmoedig voor U verhewe Drumpel, gedwee teenoor die hemel van U alvermoënde heerlikheid, ek smeek U in die middel van die nag en by dagbreek, soebat U teen môrelig en in die aand om my goedgunstig by te staan om U Saak te dien, om U Leer wyd en syd te versprei en U Woord deur die Ooste en die Weste te verheerlik.

O Here! Sterk my rug, stel my in staat om U met die uiterste poging te dien, en laat my nie aan myself oor nie, eensaam en hulpeloos in hierdie streke.

O Here! Vergun my gemeenskap met U in my eensaamheid en wees my metgesel in hierdie vreemde lande.

Voorwaar, U is die Bevestiger van wie U ook al wil in dit wat U begeer, en, voorwaar, U is die Alkragtige, die Alvermoënde.

-`Abdu'l-Bahá
-----------------------

Die Tafels van die Goddelike Plan (#3229)

O God! O God! U sien my swakheid, nederigheid en ootmoedigheid voor U skepsels; nietemin, ek het in U vertrou en het opgestaan in die bevordering van U leer onder U sterk dienaars, en reken op U krag en U mag.

O Here! Ek is 'n voël met 'n gebroke vlerk en begeer om in U onbegrensde ruimte op te styg. Hoe is dit vir my moontlik om dit te doen behalwe deur U voorsiening en genade, U bevestiging en hulp?

O Here! Ontferm U oor my swakheid en versterk my met U krag. O Here! Ontferm U oor my onvermoë en help my met U mag en majesteit.

O Here! Indien die adem van die Heilige Gees die swakste van skepsels sou bevestig, sou hy alles bereik waarna hy streef en sou hy enigiets besit wat hy begeer. Inderdaad, U het U dienaars in die verlede gehelp en, alhoewel hulle die swakstes van U skepsels was, die nederigstes van U dienaars en die mees onbeduidendes van diegene wat op aarde geleef het, deur U goedkeuring en krag het hulle voorrang geniet bo die roemrykstes van U mense en die edelmoedigstes van die mensdom. Terwyl hulle voorheen soos motte was, het hulle soos vorstelike valke geword, en terwyl hulle voorheen soos spruite was, het hulle soos seë geword, deur U skenking en U genade. Hulle het deur U allergrootste guns sterre geword wat op die horison van leiding skyn, voëls wat in die roostuine van onsterflikheid sing, leeus wat brul in die woude van kennis en wysheid, en walvisse wat in die oseane van die lewe swem.

Voorwaar, U is die Sagte, die Kragtige, die Magtige, en die Genadigste van die genadiges.

-`Abdu'l-Bahá
-----------------------

Die Tafels van die Goddelike Plan (#3230)

O God, my God! U sien hoe die swart donkerheid alle streke omhul, hoe alle lande met die vlam van verdeeldheid brand, en die vuur van oorlog en slagting oor die Ooste en die Weste brand. Bloed vloei, lyke bestrooi die grond, en afgekapte koppe is in die stof van die slagveld geval.

O Here! Ontferm U oor hierdie onkundiges en kyk op hulle met die oog van vergifnis en kwytskelding. Blus hierdie vuur, sodat hierdie dik wolke wat die horison verduister verdrewe mag word, die Son van Werklikheid met die strale van versoening mag skyn, hierdie geweldige somberheid mag verdryf word, en die blinkende lig van vrede sy luister op alle lande mag werp.

O Here! Trek die mense op uit die afgrond van die oseaan van haat en vyandigheid en bevry hulle van hierdie ondeurdringbare donkerheid. Verenig hulle harte, en verhelder hulle oë met die lig van vrede en versoening. Bevry hulle van die dieptes van oorlog en bloedvergieting en stel hulle vry van die donkerheid van afwyking. Verwyder die sluier van hulle oë en verlig hulle harte met die lig van leiding. Behandel hulle met U tere genade en medelye, en handel nie met hulle volgens U geregtigheid en toorn nie, wat die ledemate van die magtiges laat bewe.

O Here! Oorloë het aangehou. Nood en angs het groot geword en elke florerende streek is in puin gelê.

O Here! Harte is swaar en siele is in benoudheid. Wees barmhartig vir hierdie arme siele en laat hulle nie oor aan die buitensporighede van hulle eie begeertes nie.

O Here! Maak nederige en onderworpe siele openbaar in U lande, hulle gesigte verlig met die strale van leiding, van die wêreld afgeskei, wat U Naam loof, U lof uitspreek, en die geure van U heiligheid onder die mensdom versprei.

O Here! Versterk hulle rûe, omgord hulle lendene, en verruk hulle harte met die magtigste tekens van U liefde.

O Here! Voorwaar, hulle is swak, en U is die Kragtige en die Magtige; hulle is hulpeloos, en U is die Helper en die Genadige.

O Here! Die oseaan van opstand golf, en hierdie storme sal nie bedaar nie behalwe deur U grenslose genade wat alle streke omvat het.

O Here! Voorwaar, die mense is in die afgrond van hartstog, en niks behalwe U oneindige gawes kan hulle red nie.

O Here! Verdryf die donkerheid van hierdie verdorwe begeerlikhede, en verlig die harte met die lamp van U liefde waardeur alle lande eersdaags verlig sal word. Bevestig, daarbenewens, U bemindes, hulle wat hulle tuislande, hulle families en hulle kinders verlaat het, en, uit liefde vir U prag, na vreemde lande gereis het om U geure te versprei en U Leer te verkondig. Wees U hulle metgesel in hulle eensaamheid, hulle helper in 'n vreemde land, die verwyderaar van hulle droefhede, hulle trooster in rampspoed. Wees U 'n verfrissende teug vir hulle dors, 'n genesende medisyne vir hulle siektes en 'n balsam vir die brandende ywer van hulle harte.

Voorwaar, U is die Vrygewigste, die Here van oorvloeiende genade, en, voorwaar, U is die Medelydende en die Barmhartige.

-`Abdu'l-Bahá
-----------------------

Die Tafels van die Goddelike Plan (#3231)

O U liefdevolle Here! Lof sy aan U dat U ons die hoofweg van leiding gewys het, die deure van die koninkryk geopen het en Uself geopenbaar het deur die Son van Werklikheid. Aan die blindes het U gesig gegee; aan die dowes het U gehoor vergun; U het die dooies laat herlewe; U het die armes verryk; U het die weg gewys aan diegene wat afgedwaal het; U het diegene wat verdorde lippe gehad het na die fontein van leiding gelei; U het dir dors vis toegelaat om die oseaan van wesenlikheid te bereik; en U het die swerwende voëls na die roostuin van genade genooi.

O U Almagtige! Ons is U dienaars en U armes; ons is ver afgeleë en verlang na U teenwoordigheid, is begerig vir die water van U fontein, is siek, verlangende na U gesondmaking. Ons wandel in U weg en het geen mikpunt of hoop behalwe die verspreiding van U geur nie, sodat alle siele die kreet mag verhef van ,O God, lei ons na die reguit weg.' Mag hulle oë oopgemaak word om die lig te sien, en mag hulle van die donkerte van onkunde bevry word. Mag hulle rondom die lamp van U leiding vergader. Mag elke arme 'n aandeel ontvang. Mag die ontsegdes die vertroudes van U geheime word.

O Almagtige! Kyk op ons met die blik van barmhartigheid. Skenk ons hemelse bevestiging. Verleen ons die asem van die Heilige Gees, sodat ons in U diens mag gehelp word en, soos skitterende sterre, met die lig van U leiding in hierdie streke skyn.

Voorwaar, U is die Kragtige, die Magtige, die Wyse en die Siende.

-`Abdu'l-Bahá
-----------------------

Die Tafels van die Goddelike Plan (#3232)

O my God! O my God! U sien my in my nederigheid en swakheid, besig met die grootste onderneming, vasberade om U woord onder die massa te verhef en U leer onder U volke te versprei. Hoe kan ek slaag tensy U my bystaan met die asem van die Heilige Gees, my help om te seëvier met die skares van U glorieryke koninkryk, en U bevestiging op my stort wat alleen 'n muggie in 'n arend kan verander, 'n druppel water in riviere en seë, en 'n atoom in ligte en sonne? O my Here! Steun my met U seëvierende en werkdadige mag, sodat my tong U lofsprake en eienskappe onder alle mense mag verkondig, en my siel van die wyn van U liefde en kennis mag oorloop.

U is die Alvermoënde en die Doener van wat ook al U wens.

-`Abdu'l-Bahá
-----------------------

Die Tafels van die Goddelike Plan (#3233)

O Here, my God! Lof en danksegging sy aan U want U het my na die hoofweg van die koninkryk gelei, my toegelaat om in hierdie reguit en ver uitstrekkende weg te wandel, my oog verlig deur die luister van U lig te aanskou, my oor geneig na die melodieë van die voëls van die heiligheid van die koninkryk van verborgenhede en my hart aangetrek met U liefde onder die regverdiges.

O Here! Bevestig my met die Heilige Gees, sodat ek U Naam onder die volkere mag verkondig en die blye tydinge van die openbaring van U koninkryk onder die mensdom mag gee.

O Here! Ek is swak, versterk my met U krag en vermoë. My tong stamel, laat my toe om U herdenking en lof uit te spreek. Ek is nederig, eer my deur my in U koninkryk toe te laat. Ek is afgesonder, laat my die drumpel van U barmhartigheid nader. O Here! Maak my 'n skitterende lamp, 'n blinkende ster en 'n geseënde boom, versier met vrugte, sy takke al hierdie streke oorskaduwende. Voorwaar, U is die Magtige, die Kragtige en Ongedwonge.

-`Abdu'l-Bahá
-----------------------

Die Tafels van die Goddelike Plan (#3234)

O God! O God! Hierdie is 'n voël met 'n gebroke vlerk en sy vlug is baie stadig - help hom sodat hy na die toppunt van voorspoed en verlossing kan vlieg, bevleuel sy vlug met die uiterste vreugde en geluk dwarsdeur die grenslose ruimte, verhef sy melodie in U Allerhoogste Naam in alle streke, vervrolik die ore met hierdie stem, en verhelder die oë deur die tekens van leiding te aanskou!

O Here! Ek is alleen, eensaam en nederig. Vir my is daar geen steun buiten U nie, geen helper behalwe U nie, en geen bystand naas U nie. Bevestig my in U diens, help my met die skare van U engele, maak my seëvierend in die bevordering van U Woord en laat my U wysheid harduit praat onder U skepsels. Voorwaar U is die helper van die swakkes en die beskermer van die kleintjies, en voorwaar U is die Sterke, die Magtige en die Ongedwonge!

-`Abdu'l-Bahá
-----------------------

Die Tafels van die Goddelike Plan (#3235)

Lof sy aan U, o my God! Hierdie is U dienaars wat na die geure van U barmhartigheid aangetrek is, wat aan die brand gesteek is deur die vuur wat in die boom van U enkelvoudigheid brand, en wie se oë helder gemaak is deur die luister van die lig te sien wat in die die Sinaï van U eenheid skyn.

O Here! Maak hulle tonge los om melding van U onder U mense te maak, laat hulle U lof deur U genade en vriendelike goedheid uitspreek, help hulle met die magte van U engele, sterk hulle lendene in U diens, en maak hulle die tekens van U leiding onder U skepsels.

Voorwaar, U is die Alkragtige, die Verhewenste, die Altyd-Vergewende, die Algenadige.

-`Abdu'l-Bahá
-----------------------

Die Tafels van die Goddelike Plan (#3236)

O God, my God! U sien hierdie swak een om hemelse sterkte smeek, hierdie arm een verlang na U hemelse skatte, hierdie dors een verlang na die fontein van die ewige lewe, hierdie geteisterde een smag na U beloofde genesing deur middel van U grenslose genade, wat U bestem het vir U verkose dienaars in U koninkryk in die hoogte.

O Here! Ek het geen helper behalwe U nie, geen skuilplek buiten U, en geen onderhouer behalwe U nie. Help my met U engele om U heilige geure te versprei en om U leer onder die uitgesogtes van U mense uit te brei.

O my Here! Laat my toe om afgeskei te wees van alles behalwe U, om aan die soom van U mildheid vas te hou, om geheel aan U Geloof toegewyd te wees, om vas en standvastig te bly in U liefde en om te onderhou wat U in U Boek voorgeskrywe het.

Voorwaar, U is die Kragtige, die Magtige, die Alvermoënde.

-`Abdu'l-Bahá
-----------------------

